> Bybelvasvra 2023

Bybelvasvra 2023

Die Rapportryerbeweging (RRB) se nasionale vlagskipprojek, die Bybelvasvra, se uitdunrondte vir laerskole (Graad 5 tot 7) en die finaal vir hoërskole (Graad 8 tot 10) is pas afgehandel.

Die spanne het uitstekend presteer en die vraestelle was buitengewoon straf. Die RRB is baie opgewonde en dankbaar dat inskrywings vir die Bybelvasvra aansienlik sedert verlede jaar tot 99 spanne gegroei het – 17 meer as die vorige jaar!

In die hoërskool-afdeling het Hoërskool Zwartkop van Pretoria met die louere weggestap. Die span was werklik baie goed voorberei en het uitstekend presteer. Die RRB is inderdaad baie trots op die span en sien daarna uit om hulle tydens die finaal vir laerskole by die ATKV-oord, Klein-Kariba, te onthaal.

Oudergewoonte was die laerskole se deelname aan die uitdunrondte van die Vasvra, wat dwarsoor Suid-Afrika geskryf is, iets baie besonders. Die opgewondenheid was 'n lus vir die oog, en die gees en gesindheid van die spanleiers en spanne was werklik 'n belewenis om te ervaar.

Die RRB wil graag die TOP 10 SPANNE, van harte gelukwens met die prestasie om na die finaal deur te dring. Baie sterkte aan julle met jul finale voorbereiding, en mag julle die Bybelvasvra geniet en altyd onthou as iets baie besonders en lekker waaraan julle deelgeneem het.

Die Laerskole TOP 10 SPANNE wat na die finaal deurdring, in alfabetiese volgorde, soos volg;

Constantiapark 1 Pretoria
Die Krans 1 Pretoria
Elarduspark 1 Pretoria
Elarduspark 4 Pretoria
Eversdal 1 Durbanville
Hennopspark 2 Pretoria
Lichtenburg 1 Lichtenburg
Pietersburg-Oos 1 Pietersburg
Randhart 1 Alberton
Stephanus Roos 1 Pretoria

Graag wil die RRB ook al die ander spanne bedank vir hul deelname. Landswye deelname maak die Bybelvasvra iets baie uniek en 'n absolute trots vir 'n ieder en ‘n elk wat daarby betrokke is.

Baie spanne was ongelukkig om nie na die finaal deur te dring nie. Die punte wat die meeste spanne behaal het was bogemiddeld hoog, wat getuig van harde werk.

Die RRB sien daarna uit om die topspanne te onthaal en gesellig saam by die ATKV-oord te Klein-Kariba gedurende die naweek van 20, 21 en 22 Oktober 2023 te verkeer.

Johan Roos