Die Rapportryers se Nasionale Laerskole Bybelvasvra vind weer in 2020 plaas?

Daar bestaan geen ander Christelike aktiwiteit waarvan ek bewus is waar leerders vanaf Graad 4 tot 7 soveel tyd met die Woord van God spandeer nie.

Die inhoud wat hulle leer is in Afrikaans en daardeur leer hulle korrekte Afrikaanse taalgebruik, spelling en sinskonstruksie uit seker die mees taalversorgde geskrewe werk in die Afrikaanse taal. Honderde leerlinge spandeer van Februraie tot Oktober weekliks ure in die Bybel saam met hul onderwysers en ouers om al die inligting te memoriseer.

Die Bybelvasvra in 'n neutedop.

Die Rapportryers se Nasionale Laerskole Bybelvasvra vind plaas in spanverband van vier leerders per span.
Skrifgedeeltes uit die Ou en Nuwe Testament word jaarlikse uitgesonder en reeds in November bekend gemaak.

Die eerste rondte vind in Mei en die tweede rondte in Augustus op streeksvlak plaas. Spanne neem aan al twee rondtes deel. Die Top Tien Senior spanne word dan uitgenooi na die Finale rondte in Oktober om die Nasionale wenner te bepaal.

Die Rapportryerbeweging dra die koste vir een afrigter en vier leerders. Indien skole ekstra afrigters en persone wil saambring is dit vir die skool se rekening. Skole moet ook op hulle eie onkoste by die plekke waar uitdunrondtes en die finaal gehou word aanmeld.

Ons bied die projek ook in Engels aan (vraestel word vertaal) sodat niemand uitgesluit word nie. Sou ‘n Engelse span onder die Top Tien eindig sal hulle uiteraard vir die finale rondte kwalifiseer.

Die Junior afdeling is ingestel om die jonger leerders ‘n makliker intreevlak te bied met die oog op latere volwaardige deelname in die senior afdeling.

Junior spanne bestaan uit leerders in Graad 4 en 5 alleenlik. Die vraestelle bestaan uit drie afdelings.

Senior spanne bestaan uit vier leerders van Graad 6 en 7. Niks verhoed egter dat ‘n afrigter ‘n Graad 5 leerder in ‘n Senior span mag insluit nie.

Die vraestel bestaan uit ses afdelings.
Leerders in spanne hoef nie in dieselfde grade te wees nie en daar is ook geen geslagtelike voorskrifte nie.

Erkenning:

Die Top Tien Senior spanne word uitgenooi na die Finale Rondte wat oor 'n naweek plaasvind.

Die prysgeld is soos volg:
Senior wenspan: R5000
Tweede plek: R4000
Derde Plek: R3000;
Junior wenspan R1000.

Die Provinsiale wenspan (waar ‘n span nie onder Top Tien is nie) en die naasbeste provinsiale span (waar daar wel spanne onder die Top Tien is) : R 1000
Sertifikate: Top Tien deelname sertifikate
Sertifikate vir elke spanlid van die Top 3 spanne Sertifikate vir elke spanlid van die Top 3 spanne Sertifikate vir provinsiale Senior wenspanne
Sertifikate vir Juniors spanne (Wenners tot en met vyfde plek nasionaal) Sertifikate vir algemene deelname vir al die ander leerders.
Bybels vir elke spanlid van die top Tien Senior spanne (geborg deur Bybelgenootskap van SA)
RRB Wisseltrofee vir die Nasionale Senior Wenspan.
Klein trofee vir elke spanlid van die Nasionale Senior wenspan