> Die Voortrekkermonument is vier ossewaens ryker

Die Voortrekkermonument is vier ossewaens ryker

15 jaar na ’n museumeienaar se afsterwe word vier ossewaens aan die Voortrekkermonument geskenk

Christoffel Jacobus du Toit Viljoen en sy vrou, Jennifer Viljoen, het ’n huismuseum begin in die laat 1990’s. Na Viljoen se afsterwe in 2007 het sy vrou sy nalatenskap met trots bewaar. Die Viljoen-familie het met die Voortrekkermonument kontak gemaak en besluit om hierdie vier gesogte waens aan die Voortrekkermonument te skenk. Dit het die Voortrekkermonument se ossewa-familie na 18 ossewaens laat groei.

Viljoen sê dat daar geen ander plek in Suid-Afrika is wat hierdie waens ’n beter kultuurtuiste kan bied nie.

"Ek skenk die waens graag aan die Voortrekkermonument, want ek weet dat dit daar bewaar sal word. Dit is vir my uiters belangrik dat ons kinders van Jan van Riebeeck af ons korrekte geskiedenis leer. En as die monument dit kan oordra aan hulle - fantasties!"

Die Voortrekkermonument, in samewerking met die Rapportryers - RRB, het Saterdag 22 Julie vier ossewaens gaan oplaai in Lydenburg, Mpumalanga. Hierdie tog van naastenby 300 km is aangepak deur ’n konvooi wat bestaan uit die Jakaranda Rapportryers en die Voortrekkermonument. Die ossewaens het skares getrek op dié tog deur dorpe soos Lydenburg en Dullstroom, op pad na hul nuwe tuiste by die Voortrekkermonument.

“Dit is vir ons ’n groot voorreg om in die posisie te kan wees om hande te kan vat saam met ander kultuurorganisasies en individue wie se harte klop om ons Afrikanererfenis te bewaar. Dit is veral belangrik in ’n jaar soos hierdie waar ons die 185ste herdenking van die Slag van Bloedrivier en die Groot Trek herdenk dat daar bewusmakingaksies en projekte soos hierdie gebeur om die gemeenskap saam te trek,” sê Jaco Cilliers van die Voortrekkermonument.

Die Rapportryers se president, Johan Roos, sê dat dit vir hulle ’n baie groot voorreg is om betrokke te kan wees by so ’n historiese trek.

“Die samewerking tussen die Rapportryers en die Voortrekkermonument is vir my van kardinale belang, want die Voortrekkermonument word werklik vandag die kultuurtuiste van die Afrikaner. Dit is nie ’n reg nie, dit is uit en uit ’n voorreg en ons moet daarna kyk. Wat vir my ’n riem onder die hart is, is om te sien hoe die jong mans aktief betrokke raak om ons erfenis te bewaar vir die nageslag.”

Viljoen sê dat sy nie kan wag om vir die ossewaens – wat vir meer as 25 jaar in haar en haar man se bewaring was – by hulle nuwe tuiste te kom kuier nie.